21 En hulle maak hul mond wyd oop teen my, hulle sê: Ha, ha, ons oog het dit gesien!
22 Here, U het dit gesien, swyg nie. Here, wees nie ver van my af nie!
23 Ontwaak en word wakker vir my reg; my God en Here, vir my regsaak.
24 Doen aan my reg na u geregtigheid, Here my God, en laat hulle oor my nie bly wees nie!
25 Laat hulle in hul hart nie sê: Ha, ons begeerte! Laat hulle nie sê: Ons het hom verslind nie!
26 Laat hulle wat bly is oor my ongeluk, beskaamd staan en saam rooi van skaamte word; laat hulle wat hul teen my groot maak, met skaamte en skande beklee word!
27 Laat húlle jubel en bly wees wat ’n behae het in my geregtigheid; en laat hulle altyddeur sê: Groot is die Here wat ’n welbehae het in die vrede van sy kneg!