5 Gimel. Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom, en Hý sal dit uitvoer;
6 en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag.
7 Dalet. Swyg voor die Here en verwag Hom; wees nie toornig op hom wat voorspoedig in sy weg is nie, op die man wat listige planne uitvoer nie.
8 He. Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid; wees nie toornig nie: dit is net om kwaad te stig.
9 Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die Here verwag, hulle sal die aarde besit.
10 Wau. En nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie.
11 Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.