9 Hoor, my volk, en Ek wil jou dit inskerp; Israel, as jy tog na My wou luister!
10 Daar mag by jou geen vreemde god wees nie, en voor ’n uitlandse god mag jy jou nie neerbuig nie.
11 Ek is die Here jou God wat jou laat optrek het uit Egipteland; maak jou mond wyd oop, dat Ek dit kan vul.
12 Maar my volk het na my stem nie geluister nie, en Israel was vir My nie gewillig nie.
13 Toe het Ek hulle oorgegee aan die verhardheid van hul hart, dat hulle in hul eie planne kon wandel.
14 Ag, as my volk maar na My wou luister, Israel in my weë wou wandel!
15 Gou sou Ek hul vyande onderwerp en my hand teen hul teëstanders uitstrek.