32 Daarop het Jefta deurgetrek na die kinders van Ammon om teen hulle te veg, en die Here het hulle in sy hand gegee.
33 En hy het hulle verslaan van Ároër af in die rigting na Minnit, twintig stede, en tot by Abel-Kerámim — ’n baie groot slag; sodat die kinders van Ammon verneder is voor die kinders van Israel.
34 En toe Jefta in Mispa by sy huis kom, gaan sy dogter juis uit hom tegemoet met tamboeryne en koordanse; en sy was die enigste kind: hy het geen seun of dogter buiten haar gehad nie.
35 En net toe hy haar sien, skeur hy sy klere en sê: Ag, my dogter, jy druk my heeltemal neer, en jý stort my in die ongeluk! Want ek het my mond geopen teenoor die Here, en ek kan nie terugtrek nie.
36 En sy antwoord hom: My vader, as u u mond geopen het teenoor die Here, maak met my soos uit u mond uitgegaan het nadat die Here u volkome wraak verskaf het op u vyande, op die kinders van Ammon.
37 Verder het sy vir haar vader gesê: Laat dít my toegestaan word: laat my twee maande vry, dat ek kan weggaan en afdaal na die berge en my maagdelike staat beween, ek en my vriendinne.
38 En hy sê: Gaan! En hy het haar vir twee maande laat gaan. Sy het toe weggegaan met haar vriendinne en haar maagdelike staat op die berge beween.