35 En net toe hy haar sien, skeur hy sy klere en sê: Ag, my dogter, jy druk my heeltemal neer, en jý stort my in die ongeluk! Want ek het my mond geopen teenoor die Here, en ek kan nie terugtrek nie.
36 En sy antwoord hom: My vader, as u u mond geopen het teenoor die Here, maak met my soos uit u mond uitgegaan het nadat die Here u volkome wraak verskaf het op u vyande, op die kinders van Ammon.
37 Verder het sy vir haar vader gesê: Laat dít my toegestaan word: laat my twee maande vry, dat ek kan weggaan en afdaal na die berge en my maagdelike staat beween, ek en my vriendinne.
38 En hy sê: Gaan! En hy het haar vir twee maande laat gaan. Sy het toe weggegaan met haar vriendinne en haar maagdelike staat op die berge beween.
39 En aan die end van twee maande het sy na haar vader teruggekom, en hy het die gelofte wat deur hom gedoen is, aan haar voltrek; en sy het geen man beken nie. En dit het ’n gewoonte geword in Israel
40 dat die dogters van Israel jaar vir jaar heengaan om die dogter van Jefta, die Gileadiet, te besing, vier dae in die jaar.