1 Hierby wil ek nog dít sê: Solank 'n erfgenaam nog minderjarig is, verskil sy posisie nie werklik van dié van 'n slaaf nie, al behoort die hele erfenis aan hom.
2 Tot die dag wat sy pa bepaal het, staan hy onder toesig van voogde en word sy besittings deur bestuurders beheer.
3 En so is dit ook met ons. Toe ons nog geestelik onmondig was, was ons slawe van wettiese godsdienstige reëls.
4 Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit 'n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe
5 om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word.
6 En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader!
7 Jy is dus nie meer 'n slaaf nie; jy is nou 'n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.
8 Daar was 'n tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode.
9 Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees?
10 Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier.
11 Ek vrees my harde werk aan julle was dalk tevergeefs.
12 Ek smeek julle, broers: Word soos ek, soos ek my ook met julle vereenselwig het. Julle het my nooit sleg behandel nie.
13 Julle onthou mos hoe dit gekom het dat ek die eerste keer die evangelie aan julle verkondig het. Dit was deurdat ek siek geword het.
14 En al was my toestand vir julle 'n versoeking om my te verag of selfs te verfoei, het julle dit nie gedoen nie. Inteendeel, julle het my ontvang asof ek 'n engel van God was, ja, asof ek Christus Jesus self was.
15 Julle was so bly daaroor. Wat het nou van julle blydskap geword? Dít kan ek van julle getuig: As dit moontlik was, sou julle julle oë uitgeruk en vir my gegee het.
16 Het ek dan nou julle vyand geword deurdat ek die waarheid aan julle voorhou?
17 Daardie mense se ywer vir julle is nie met suiwer bedoelings nie. Hulle wil julle van my losmaak sodat julle julle vir hulle saak sal beywer.
18 Om jou vir 'n goeie saak te beywer, is goed, maar dan moet dit altyd die geval wees en nie net as ek by julle is nie.
19 My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry.
20 Ek wens ek kon nou by julle wees en op 'n ander toon met julle praat. Ek is werklik besorg oor julle.
21 Julle wat so graag aan die wet van Moses onderworpe wil wees, sê vir my: Hoor julle nie wat die wet sê nie?
22 Daar staan tog geskrywe dat Abraham twee seuns gehad het, een by 'n slavin en een by 'n vrygeborene.
23 Sy seun by die slavin is volgens die loop van die natuur verwek en gebore, maar sy seun by die vrygeborene kragtens 'n belofte van God.
24 'n Mens moet dit figuurlik verstaan. Die twee vroue staan vir twee verbonde. Die een is by Sinaiberg gesluit en bring slawe voort. Dié verbond is Hagar.
25 Hagar staan vir Sinaiberg in Arabië, en dit is 'n beeld van die huidige Jerusalem, want Jerusalem en sy kinders is slawe.
26 Maar die hemelse Jerusalem is vry, en dit is ons moeder.
27 Daar staan immers geskrywe:“Verbly jou, onvrugbare wat nie kinders kon hê nie.Juig van vreugde,jy wat nooit moeder kon word nie,want die kinderlose vrou wat deur haar man verlaat is,sal meer kinders hê as die vrugbare wie se man by haar is.”
28 En julle, my broers, is net soos Isak kragtens die belofte kinders van God.
29 Destyds het die seun wat volgens die loop van die natuur gebore is, die seun vervolg wat deur die Gees in die wêreld gekom het. En dit is nou nog so.
30 Maar wat sê die Skrif hiervan? “Jaag die slavin en haar seun weg, want die seun van die slavin mag hoegenaamd nie saam met die seun van die vrygeborene erf nie.”
31 Ons is dus nie kinders van 'n slavin nie, broers; ons is kinders van die vrye.