24 en sê: “U Majesteit, het u ooit gesê Adonia moet ná u koning wees en dit is hy wat op u troon moet sit?
25 Hy het vandag gegaan en 'n klomp beeste en kalwers en skape geslag, en hy het al die prinse en die leërhoofde en die priester Abjatar genooi. Hulle eet en drink daar saam met hom en hulle roep: ‘Lank lewe koning Adonia!’
26 Maar vir my en die priester Sadok en Benaja seun van Jojada, en Salomo het hulle nie genooi nie.
27 As hierdie optrede met u toestemming plaasvind, dan het u ons nie ingelig oor wie ná u op u troon moet sit nie.”
28 Toe sê koning Dawid: “Roep vir Batseba hier na my toe.”Sy het nader gekom en voor die koning gaan staan.
29 Toe lê die koning 'n eed af en sê: “So seker as die Here leef wat my uit alle benoudheid verlos het:
30 soos ek vir jou met 'n eed voor die Here die God van Israel bevestig het dat jou seun Salomo ná my koning sal word, en dat hy in my plek op die troon sal sit, so doen ek dit nou weer.”