1 Agab het vir Isebel vertel wat Elia alles gedoen het, ook dat hy al die profete om die lewe gebring het.
2 Toe het Isebel 'n boodskapper na Elia toe gestuur om vir hom te sê: “Mag die gode my om die lewe bring as ek nie môre teen hierdie tyd met jou gemaak het soos jy met die profete nie.”
3 Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug. Toe hy by Berseba in Juda kom, het hy sy slaaf daar agtergelaat.
4 Hy self het egter 'n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder 'n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.”
5 Toe gaan hy lê en hy het daar onder die besembos aan die slaap geraak. Toe hy hom weer kom kry, skud 'n engel aan hom en sê: “Word wakker! Eet!”
6 Toe hy opkyk, sien hy by sy kop roosterkoek wat op warm klippe gebak is, en 'n kruik water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê.
7 Die engel het 'n tweede keer aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word.”
8 Toe staan hy op en hy eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God.
9 Hy het in 'n grot ingegaan en die nag daar deurgebring. Toe het die woord van die Here tot hom gekom en vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?”
10 Hy antwoord toe: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.”
11 Maar die Here sê vir hom: “Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.”Skielik was daar 'n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar 'n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie.
12 Na die aardbewing was daar 'n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar 'n fluistering in die windstilte.
13 Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy 'n stem wat vir hom sê: “Wat maak jy hier, Elia?”
14 Hy het geantwoord: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.”
15 Maar die Here sê vir hom: “Draai in jou spore om na die Damaskuswoestyn toe, en as jy daar aangekom het, moet jy vir Gasael salf tot koning van Aram.
16 Jy moet ook vir Jehu seun van Nimsi salf tot koning van Israel, en vir Elisa seun van Safat uit Abel-Megola moet jy salf tot profeet om jou op te volg.
17 Dan sal dit só wees: wie Gasael se swaard vryspring, Jehu sal hom doodmaak; wie Jehu se swaard vryspring, Elisa sal hom doodmaak.
18 Maar Ek sal in Israel die sewe duisend laat oorbly wat nie die Baälbeeld aanbid het nie.”
19 Nadat hy daarvandaan af weggegaan het, kry hy vir Elisa seun van Safat besig om te ploeg met twaalf spanne van twee, terwyl hy self by die agterste span geloop het. Toe Elia by hom verbyloop, gooi Elia sy mantel op hom.
20 Hy het sy osse net so gelos en agter Elia aangehardloop en gesê: “Laat ek tog net my pa en ma gaan groet. Dan sal ek saam met u gaan.”Elia antwoord hom toe: “Gaan as jy wil. Ek hou jou mos nie terug nie.”
21 Toe draai Elisa om en gaan slag twee osse, en met die juk het hy die vleis gebraai en vir sy werksmense gegee om te eet. Daarna het hy saam met Elia gegaan en sy volgeling geword.