35 Julle moet agter hom aangaan, en hy moet binnegaan en op my troon gaan sit, want dit is hy wat my as koning opvolg. Ek gee opdrag dat hý heerser moet wees van Israel en Juda.”
36 Benaja seun van Jojada sê toe: “So is dit, en mag die Here u God ook so sê.
37 Mag Hy by Salomo wees soos Hy by u was. Mag Hy die heerskappy van Salomo nog groter maak as koning Dawid s'n.”
38 Die priester Sadok, die profeet Natan en Benaja seun van Jojada en die koninklike lyfwag het toe so gemaak. Hulle het Salomo op koning Dawid se muil laat ry en hom by Gihonfontein gebring.
39 Die priester Sadok het 'n horing vol olie uit die heiligdom saamgebring en hy het vir Salomo gesalf. Toe blaas hulle die ramshoring, en die mense roep: “Lank lewe koning Salomo!”
40 Hulle gaan toe almal agter hom aan terwyl hulle op fluite blaas en juig dat die aarde daarvan dreun.
41 Adonia en sy gaste was net klaar met eet toe hulle dit hoor. Toe Joab die ramshoring hoor, vra hy: “Wat is die stad so rumoerig?”