32 die orige stam sal syne bly ter wille van my dienaar Dawid, en ter wille van Jerusalem, die stad wat Ek tussen al die stamme van Israel uitgekies het.
33 Maar Salomo het My verlaat en Astarte die godin van die Sidoniërs, Kemos die god van Moab, en Milkom die god van die Ammoniete, aanbid. Hy het nie meer geleef volgens my wil en gedoen wat reg is in my oë nie of my voorskrifte en bepalings nagekom soos sy vader Dawid gedoen het nie.
34 Ek sal nogtans nie die hele koningskap van hom wegvat nie. Ek sal hom sy lewe lank koning laat bly ter wille van my dienaar Dawid wat Ek uitverkies het en wat hom aan my gebooie en voorskrifte gehou het,
35 maar Ek gaan die koningskap van sy seun af wegvat. Ek gaan tien stamme vir jou gee
36 en vir sy seun gaan Ek net een gee, sodat die troon van my dienaar Dawid bestendig sal wees in Jerusalem, die stad wat Ek verkies het om my Naam daar te vestig.
37 “Ek gaan jou as koning aanstel, soos dit jou hartsbegeerte is. Jy sal oor Israel regeer.
38 As jy gehoor gee aan alles wat Ek jou sal beveel, as jy jou lewe inrig volgens my wil, as jy doen wat reg is in my oë deurdat jy jou hou aan my voorskrifte en gebooie, soos my dienaar Dawid gedoen het, sal Ek by jou wees. Soos Ek Dawid se nageslag in stand hou, sal Ek joune ook in stand hou. Ek sal Israel aan jou gee