23 “Sê vir koning Rehabeam van Juda, seun van Salomo, en vir die hele Juda en Benjamin, en vir die res van die volk:
24 So sê die Here: Moenie optrek en teen die Israeliete, julle broers, veg nie. Gaan terug elkeen na sy huis toe, want wat gebeur het, kom van My af!”Hulle het geluister na die woorde van die Here en teruggegaan huis toe soos Hy beveel het.
25 Jerobeam het Sigem in die Efraimsberge herbou en daar gaan woon. Later het hy daar weggetrek en Pniël herbou.
26 Jerobeam het by homself gedink: netnou gaan die koningskap terug na die huis van Dawid;
27 as hierdie volk na Jerusalem toe gaan om daar by die tempel van die Here te gaan offer, sal hulle weer hulle koning Rehabeam, koning van Juda, aanhang; hulle sal my doodmaak en weer agter koning Rehabeam aangaan.
28 Koning Jerobeam het toe met sy raadgewers oorleg gepleeg en twee goue kalwerbeelde laat maak. Toe sê hy: “Julle het lank genoeg Jerusalem toe gegaan, Israel; hier is nou die beelde van julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het.”
29 Jerobeam het die een beeld in Bet-El opgestel en die ander in Dan.