1 Koning Hiram van Tirus het ook gesante na Salomo toe gestuur toe hy hoor dat hulle hom tot koning gesalf het in die plek van sy pa, want Hiram was altyd baie geheg aan Dawid.
2 Toe rig Salomo die volgende versoek aan Hiram:
3 “Dit is aan u bekend dat Dawid, my pa, nie 'n tempel vir die Naam van die Here sy God kon bou nie, omdat hy so dikwels in oorlog betrokke was. Die Here het hom die oorwinning oor al sy vyande gegee
4 en nou het die Here ook vir my aan alle kante rus gegee. Daar is nêrens enige teëstander of gevaar wat my bedreig nie.
5 Daarom het ek nou besluit om 'n tempel vir die Naam van die Here my God te bou. Dit sal die vervulling wees van die Here se belofte aan my pa toe die Here gesê het: ‘Jou seun wat Ek in jou plek sal laat regeer, hý sal 'n tempel vir my Naam bou.’
6 My versoek is nou dat u vir my sederhout op die Libanon laat kap. My eie arbeiders sal saam met u arbeiders werk. Ek sal ook aan u die loon betaal wat u vir u arbeiders vasstel, want soos u weet, het ons nie mense wat die houtkappery ken soos die Sidoniërs nie.”