2 Natan het Dawid geantwoord: “Doen gerus alles wat u in gedagte het. God is by u.”
3 Dieselfde nag het egter iets gebeur: die woord van God het tot Natan gekom en vir hom gesê:
4 “Gaan sê vir my dienaar Dawid: So sê die Here: Nie jý sal vir My die huis bou om in te woon nie.
5 Van die dag af dat Ek Israel hierheen laat trek het tot vandag toe het Ek nie in 'n huis gewoon nie. Ek het van tent na tent en van woonplek na woonplek gegaan.
6 Het Ek ooit terwyl Ek saam met die Israeliete rondgeswerf het, vir een van die leiers wat Ek beveel het om die leiding van my volk Israel op hom te neem, gesê: ‘Waarom bou julle nie vir My 'n huis wat met sederhout versier is nie?’
7 “Nou moet jy vir my dienaar Dawid sê: So sê die Here die Almagtige: Ek het jou uit die weiveld agter die kleinvee weggevat om oor my volk Israel te heers.
8 Oral waar jy gegaan het, was Ek by jou; al jou vyande het Ek voor jou oë uitgedelg. Ek het jou so beroemd gemaak soos die grotes op die aarde.