1 Kronieke 21 AFR83

Dawid laat die volk tel

1 Satan was teen Israel. Hy het Dawid aangehits om 'n sensus van Israel te hou.

2 Dawid het vir Joab en die gesaghebbers van die volk gesê: “Gaan maak 'n opname van Israel van die suide tot die noorde en doen aan my verslag dat ek kan weet hoeveel hulle is.”

3 Toe sê Joab: “Selfs al sou die Here by sy volk honderd keer soveel byvoeg as wat hulle nou is, sal u mos nog koning wees! Hulle is mos almal u onderdane. Waarom wil u dit doen, U Majesteit? Waarom moet dit nou 'n sondelas op Israel word?”

4 Maar die koning se bevel aan Joab het bly staan. Joab het vertrek, die hele Israel deurgegaan en na Jerusalem toe teruggekom,

5 waar hy die resultaat van die volkstelling aan Dawid oorhandig het. Israel was in totaal een miljoen een honderd duisend weerbare man en Juda vier honderd en sewentig duisend.

6 Die Leviete en die Benjaminiete het hy nie bygereken nie, want die bevel van die koning het vir Joab 'n gruwel gebly.

7 In die oë van God was die saak verkeerd en Hy het Israel dan ook daaroor swaar gestraf.

8 Dawid het teenoor God bely: “Ek het swaar gesondig toe ek hierdie ding gedoen het. Vergewe tog nou my oortreding! Waarlik, ek het baie dwaas opgetree.”

9 Die Here sê toe vir Gad, die siener van Dawid:

10 “Gaan sê vir Dawid: So sê die Here: Ek lê drie dinge aan jou voor. Kies vir jou een daarvan, dan sal Ek dit laat gebeur.”

11 Gad het toe na Dawid toe gegaan en vir hom gesê: “So sê die Here: Kies

12 drie jaar hongersnood, of om drie maande lank op die vlug te bly voor jou teenstanders en deur die swaard van jou vyand agterhaal te word, of drie dae waarin die swaard van die Here self en die pes in die land is en die engel van die Here dwarsoor die Israelitiese gebied verderf saai. Besluit nou watter antwoord ek moet terugbring aan Hom wat my gestuur het.”

13 Dawid het vir Gad geantwoord: “Ek is in 'n hoek gedryf. Laat my liewer in die hand van die Here val, want sy genade is baie groot. Ek wil nie in die hand van 'n mens val nie.”

14 Daarna het die Here 'n pes onder Israel laat uitbreek, en daar is sewentig duisend Israeliete dood.

15 God het ook 'n engel na Jerusalem toe gestuur om dié uit te delg, maar terwyl hy besig was om verderf te saai, het die Here toegekyk en besluit om die straf nie verder te voer nie. Hy het vir die engel wat die verderf aanrig, gesê: “Dit is nou genoeg! Trek jou hand terug!”Die engel van die Here het by die dorsvloer van Arauna die Jebusiet gestaan.

16 Toe Dawid opkyk en die engel van die Here tussen hemel en aarde sien staan met sy ontblote swaard in die hand en oor Jerusalem uitgesteek, val Dawid en die leiers met rouklere aan op hulle knieë neer.

17 Dawid het vir God gesê: “Dit is tog ék wat opdrag gegee het om 'n sensus van die volk te hou en ék wat gesondig het. Die herder het kwaad gedoen, maar hierdie kudde, wat het húlle gedoen? Here my God, tree tog teen my en my familie op, maar nie met 'n plaag teen u volk nie.”

18 Die engel van die Here het toe vir Gad opdrag gegee om vir Dawid te sê hy moet vir die Here 'n altaar gaan oprig op die dorsvloer van Arauna die Jebusiet.

19 Dawid het toe gegaan soos Gad hom in die Naam van die Here beveel het.

20 Arauna was besig om koring uit te trap. Toe hy omdraai en die engel sien, het hy en sy vier seuns by hom weggekruip.

21 Terwyl Dawid na Arauna toe kom, kyk Arauna af en sien hom. Hy het van die dorsvloer af gegaan en diep voor Dawid gebuig.

22 Dawid sê toe vir hom: “Laat my die plek met die dorsvloer kry. Ek wil daarop vir die Here 'n altaar bou. Laat my dit kry vir die volle waarde daarvan, dat die plaag kan wegkom van die volk af.”

23 Arauna het vir Dawid gesê: “U kan dit gerus maar vat, U Majesteit; doen wat u goedvind. Ek gee ook nog die beeste vir die brandoffer, die dorsslee vir hout en die koring vir die graanoffer. Ek gee alles.”

24 Hierop het koning Dawid vir Arauna gesê: “Nee, ek koop dit beslis van jou vir die volle waarde. Ek kan nie van wat joune is vir die Here bring nie. Ek bring nie 'n brandoffer wat my niks kos nie.”

25 Dawid het aan Arauna byna sewe kilogram goud vir die plek betaal

26 en daar 'n altaar vir die Here gebou. Hy het brandoffers en maaltydoffers gebring en die Here aangeroep. Die Here het hom geantwoord deur vuur uit die hemel op die brandofferaltaar af te stuur.

27 Daarna het die Here met die engel gepraat en hy het sy swaard in die skede teruggesit.

28 Toe Dawid destyds gemerk het die Here antwoord hom daar op die dorsvloer van Arauna die Jebusiet, het hy daar bly offer.

29 Die tabernakel van die Here wat Moses in die woestyn gemaak het en die brandofferaltaar was toe op die hoogte in Gibeon,

30 maar Dawid was nie in staat om God daar te gaan raadpleeg nie, want hy is afgeskrik deur die swaard van die engel van die Here.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29