1 Rehabeam was nouliks goed gevestig in sy koningskap en seker van sy mag, of hy en die hele Israel saam met hom het die woord van die Here verontagsaam.
2 Hulle was ontrou aan die Here, en daarom het Hy vir koning Sisak van Egipte teen Jerusalem laat optrek. Dit was in die vyfde jaar van Rehabeam se regering.
3 Sisak het twaalf honderd strydwaens en 'n berede mag van sestig duisend man gehad, terwyl die ander soldate wat saam met hom uit Egipte gekom het, te veel was om te tel. Daar was Libiërs, Sukkeërs en Kussiete.
4 Nadat Sisak die vestingstede in Juda verower het, het hy in die rigting van Jerusalem getrek.
5 Die profeet Semaja kom toe na Rehabeam en die leiers van Juda toe wat in Jerusalem saamgetrek het uit vrees vir Sisak, en sê vir hulle: “So sê die Here: Julle het My verlaat, en nou het Ek julle verlaat en is julle in Sisak se mag.”
6 Die leiers van Israel en die koning het hulle verootmoedig en het gesê: “Die Here doen reg.”
7 Toe die Here hulle berou sien, kom sy woord weer tot Semaja en sê: “Hulle is vol berou. Ek sal hulle nie uitroei nie. Ek sal hulle gou uit die greep van Sisak laat vrykom en my toorn oor Jerusalem nie deur Sisak laat losbreek nie.
8 Maar hulle sal aan hom onderhorig word, en hulle sal agterkom wat dit is om My te dien en wat dit is om die konings van ander lande te dien.”
9 Koning Sisak van Egipte het teen Jerusalem opgetrek en beslag gelê op die skatte in die huis van die Here en die paleis. Hy het alles gevat, ook die goue skilde wat Salomo laat maak het.
10 Koning Rehabeam het toe bronsskilde in die ander se plek laat maak en dié oorhandig aan die offisiere van die wag wat by die ingang van die paleis diens gedoen het.
11 Elke keer wanneer die koning na die huis van die Here toe gegaan het, het die wag die skilde gedra, en daarna het hulle die skilde teruggebring na die wagte se kamer toe.
12 Omdat die koning berou gehad het, het die toorn van die Here nie op hom bly rus nie en het dit hom nie heeltemal vernietig nie. Daar was trouens nog iets goeds in Juda.
13 Koning Rehabeam het 'n stewige houvas op die koningskap in Jerusalem gehad en het aangehou regeer. Hy was een en veertig toe hy koning geword het en was sewentien jaar lank koning in Jerusalem, die stad wat deur die Here onder al die Israelitiese stamme gekies is om sy Naam daar te vestig.Rehabeam se ma was Naäma, 'n Ammonitiese vrou.
14 Hy het gedoen wat verkeerd is en hy het hom nie daarop toegelê om na die wil van die Here te vra nie.
15 Die verhale oor Rehabeam, dié van vroeër sowel as dié van later, is opgeteken in Die Verhale van die Profeet Semaja en die Siener Iddo, wat oor die geslagsregister handel. Daar was deurentyd oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam.
16 Rehabeam is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Abia het hom as koning opgevolg.