3 Josafat was bang en het by die Here hulp gesoek. Hy het 'n vasdag in die hele Juda uitgeroep,
4 en die Judeërs het bymekaargekom om die hulp van die Here te vra. Uit al die stede van Juda het hulle gekom om die Here se hulp te vra.
5 Josafat het opgestaan in die gemeente van Juda en Jerusalem, in die tempel reg voor die nuwe voorhof,
6 en gebid: “Here, God van ons voorvaders, U is God. U heers uit die hemel oor al die koninkryke van die nasies. Uit u hand kom die mag en die krag. Niemand kan teen U stand hou nie.
7 Dit is U, ons God, wat die vroeëre inwoners van hierdie land voor u volk Israel uit verdryf het en die land aan die nageslag van u vriend Abraham as 'n blywende besitting gegee het.
8 Hulle het hulle hier gevestig en hier vir u Naam 'n heiligdom gebou en gesê:
9 ‘As U 'n ramp oor ons bring, of 'n oorlog om ons te straf, of pes, of hongersnood, sal ons voor hierdie tempel kom staan, voor U, want u Naam is in hierdie tempel, en ons sal na U om hulp roep uit ons nood. Hoor dan en help ons!’