20 Amasia het hom nie laat waarsku nie, want God het dit so bewerk om hom in Joas se mag oor te gee. Dit was omdat Amasia-hulle die gode van Edom gedien het.
21 Koning Joas van Israel het toe opgetrek en hy en koning Amasia van Juda het slaags geraak in Bet-Semes in Juda.
22 Juda het 'n neerlaag gely teen Israel, en die manskappe het op die vlug geslaan, elkeen na sy huis toe.
23 Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda, seun van Joas seun van Joahas, gevange geneem in Bet-Semes en hom na Jerusalem toe gebring. Daar het Joas 'n stuk muur van Jerusalem laat afbreek, van die Efraimspoort af tot by die Hoekpoort, honderd en tagtig meter.
24 Hy het al die goud en silwer gevat, al die tempelgereedskap wat destyds in die tempel by Obed-Edom was, die koninklike skat, en ook nog gyselaars, en toe is hy terug Samaria toe.
25 Amasia seun van koning Joas van Juda het ná die dood van koning Joas van Israel, seun van Joahas, nog vyftien jaar geleef.
26 Die ander verhale oor Amasia, dié van vroeër sowel as dié van later, is opgeteken in die annale van die konings van Juda en Israel.