5 Daarom het die Here sy God hom oorgegee in die mag van die koning van Aram. Dié het hom verslaan en 'n groot klomp van sy mense krygsgevangenes gemaak en hulle na Damaskus toe weggevoer.Agas is ook oorgegee in die mag van die koning van Israel wat hom 'n verpletterende neerlaag toegedien het.
6 Peka seun van Remalja het in Juda op een dag honderd en twintig duisend man, almal soldate, doodgemaak, omdat hulle die Here die God van hulle voorvaders verlaat het.
7 Sikri, 'n krygsman uit Efraim, het die prins Maäseja, die paleisbestuurder Asrikam en die onderkoning Elkana doodgemaak.
8 Die Israeliete het van hulle broedervolk twee honderd duisend vrouens, seuns en dogters gevange geneem en boonop 'n groot hoeveelheid buit geneem en na Samaria toe saamgevat.
9 Daar was in Samaria 'n profeet van die Here met die naam Oded. Hy het die leër wat in Samaria teruggekom het, voorgestaan en vir hulle gesê: “In sy toorn teen Juda het die Here, die God van julle voorvaders, hulle in julle mag gegee, en julle het onder hulle 'n slagting aangerig met 'n woede wat ten hemel skrei.
10 Nou sê julle julle wil van dié mense van Juda en Jerusalem julle slawe en slavinne maak. Maar julle, is alles wat julle doen nie ook misdade teen die Here julle God nie?
11 Luister nou en vat die gevangenes wat julle uit julle broedervolk weggevoer het, terug, want die toorn van die Here hang oor julle.”