6 Ook die Israeliete wat in die stede van Juda gewoon het, en die mense van Juda self, het hulle tiendes uit die groot- en kleinvee ingebring en hulle het die gawes wat aan die Here hulle God gewy was, kom neersit, hope en hope.
7 Hulle het in die derde maand daarmee begin, en die goed het bly ophoop tot die sewende maand toe.
8 Toe Hiskia en die amptenare kom en die hope sien, het hulle die Here en sy volk Israel geprys.
9 Hiskia het by die priesters en die Leviete navraag gedoen oor die hope goed,
10 en Asarja die hoëpriester uit die huis van Sadok het vir hom gesê: “Vandat die offergawes by die huis van die Here begin inkom het, is hier meer as genoeg om te eet en daar bly baie oor. Die Here het sy volk geseën, daarom is daar so 'n massa goed oor.”
11 Hiskia het toe opdrag gegee dat daar kamers aan die tempel aangebou word, en dit is gedoen.
12 Die offergawes, die tiendes en die gewyde gawes het getrou ingekom. Die Leviet Kenanja moes daaroor toesig hou, en sy ampsgenoot Simi was tweede in bevel.