4 Hy het persoonlik toegesien dat die altare van die Baäls verwoes word en het die wierookaltare wat bokant die Baälsaltare gestaan het, laat stukkend slaan. Die gewyde pale en die gesnede en gegote beelde het hy stukkend gebreek, fyngemaal en oor die grafte van dié wat vir hulle offerandes gebring het, gestrooi.
5 Die bene van die afgodspriesters het hy op hulle eie altare laat verbrand. So het hy Juda en Jerusalem skoongemaak,
6 en ook die stede van Manasse, Efraim en Simeon, tot by Naftali, en ook die ruïnes van die omgewing.
7 Hy het dwarsoor die gebied van Israel altare afgebreek, gewyde pale en beelde in stukkies gekap en al die wierookaltare stukkend gebreek. Daarna is hy terug Jerusalem toe.
8 In die agtiende jaar van sy regering, toe hy nog besig was om die land en die tempel skoon te maak, het Josia vir Safan seun van Asalja, die stadsbevelvoerder Maäseja en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Joahas gestuur om die huis van die Here sy God te herstel.
9 Hulle het die geld wat deur die Levitiese drumpelwagte vir die tempel ingesamel is in Manasse en Efraim en oral in Israel, Juda en Benjamin en by die inwoners van Jerusalem, aan die hoëpriester Gilkija gaan oorhandig.
10 Die geld is toe gegee aan die mense wat vir die werk aan die tempel moes sorg en dié het dit gebruik vir die heropbou en herstel van die gebou.