15 Die sangers van die Asafgroep was op hulle pos volgens die voorskrif van Dawid, en ook Asaf self, Heman en Jedutun, die siener van die koning. Die poortwagte was elkeen by die poort waar hy moes wees. Hulle het nie nodig gehad om hulle poste te verlaat nie, want hulle ampsgenote, die Leviete, het vir hulle gesorg.
16 So het die diens van die Here daardie dag verloop. Die paasfees is gevier en die brandoffers op die altaar van die Here gebring soos koning Josia beveel het.
17 Die Israeliete wat daar was, het destyds die paasfees gevier en die sewedaagse fees van die ongesuurde brood.
18 Van die tyd van die profeet Samuel af is daar nie so 'n groot paasfees in Israel gevier nie. Nie een van die konings van Israel het so paasfees gevier soos Josia, die priesters en die Leviete, die hele Juda, die Israeliete wat daar was, en die inwoners van Jerusalem dit gevier het nie.
19 Dié paasfees is gevier in die agtiende regeringsjaar van koning Josia.
20 Alles wat Josia aan die tempel laat doen het, was afgehandel. Toe het koning Neko van Egipte opgetrek om in Karkemis, aan die Eufraat, te gaan oorlog maak. Josia het teen hom opgetrek,
21 en Neko het met boodskappers vir hom laat weet: “Ons het niks teen mekaar nie, koning van Juda! My veldtog is dié keer nie teen jou nie, maar teen 'n vyand. God het gesê ek moet gou maak. Moenie in God se pad kom nie. Hy is by my en Hy sal jou vernietig.”