20 Daarna het hy die lengte en die breedte gemeet van die poortgebou teen die buitenste voorhof, die poort wat noord gekyk het.
21 Die poortgebou het ook weerskante drie sykamers gehad, en die afmetings van sy tussenmure en sy toegangsportaal was dieselfde as dié van die poortgebou wat reeds beskryf is. Dié poortgebou was ook vyf en twintig meter lank en twaalf en 'n half meter wyd.
22 Sy vensteropenings, sy toegangsportaal en sy palmversierings was net so groot as dié van die poort wat oos gekyk het, en die poort is bereik deur middel van sewe trappe. Agteraan was ook 'n toegangsportaal.
23 Daar was 'n poortgebou teen die binneste voorhof regoor die noordpoort net soos in die geval van die oospoort. Die man het die afstand tussen die buitenste en die binneste poorte gemeet. Dit was vyftig meter.
24 Daarna neem die man my na die suidekant toe, waar die suidpoort was. Hy het die tussenmure en die toegangsportaal van die poortgebou gemeet, en dit was dieselfde as dié in die ander poortgeboue.
25 Net soos die ander, het dié poortgebou se toegangsportaal ook vensteropenings rondom gehad, en was hy vyf en twintig meter lank en twaalf en 'n half meter wyd.
26 Daar was sewe trappe op na die poort toe en agteraan was 'n toegangsportaal. Op elkeen van die tussenmure weerskante was daar 'n palmversiering.