28 Toe Abraham in die rigting van Sodom en Gomorra en van die hele vlaktestreek kyk, sien hy oor die hele wêreld trek rook op asof dit 'n steenoond is.
29 Toe God die stede in die vlakte verdelg het waar Lot gewoon het, het God aan Abraham gedink en vir Lot laat wegkom uit die plek waar die verwoesting plaasgevind het.
30 Lot het toe van Soar af weggegaan en met sy twee dogters in die berge gaan bly. Hy was bang om in Soar te bly en het toe met sy twee dogters in 'n grot gaan woon.
31 Die oudste dogter het vir die jongste gesê: “Pa is oud. Hier rond sal ons nie op die gebruiklike manier mans kry nie.
32 Kom ons maak vir Pa dronk en dan slaap ons by hom sodat ons by hom kinders kan hê.”
33 Daardie nag het hulle hom dronk gemaak, en die oudste dogter het met hom gemeenskap gehad. Hy het nie besef dat dit sy is wat by hom kom lê en daarna opstaan nie.
34 Die volgende dag sê sy toe vir die jongste: “Ek het verlede nag by hom geslaap. Kom ons maak hom vannag weer dronk en dan gaan slaap jy by hom sodat ons elkeen 'n kind by hom kan hê.”