1 Die slang was listiger as al die wilde diere wat deur die Here God gemaak is en het vir die vrou gevra: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?”
2 Die vrou het die slang geantwoord: “Ons mag eet van die vrugte van die bome in die tuin.
3 God het net gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die middel van die tuin nie en ons mag dit nie aanraak nie, want dan sterf ons.”
4 Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie,
5 maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.”
6 Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet.
7 Hulle altwee se oë gaan toe oop, en hulle besef dat hulle kaal is. Toe werk hulle vyeblare aanmekaar en hang dit om vir klere.
8 Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin.
9 Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?”
10 En die mens antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip.”
11 Die Here God vra toe: “Hoe het jy te wete gekom dat jy kaal is? Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie?”
12 Die mens het geantwoord: “Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek het geëet.”
13 Toe vra die Here God vir die vrou: “Wat het jy nou gedoen?” en sy sê: “Die slang het my mislei, en ek het geëet.”
14 En die Here God sê vir die slang:“Omdat jy dit gedoen het,is jy vervloek onder al die diere.Op jou maag sal jy seilen stof sal jy eet, jou lewe lank.
15 Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou,tussen jou nageslag en haar nageslag.Haar nageslag sal jou kop vermorselen jy sal hom in die hakskeen byt.”
16 Vir die vrou het die Here God gesê:“Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe:met pyn sal jy kinders in die wêreld bring.Na jou man sal jy hunker,en hy sal oor jou heers.”
17 Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet,“is die aarde deur jou toedoen vervloek;met swaarkry sal jy daaruit 'n bestaan maak,jou lewe lank;
18 die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit,en jy sal veldplante eet;
19 net deur harde werk sal jy kan eet,totdat jy terugkeer na die aarde toe,want daaruit is jy geneem.Stof is jy, en jy sal weer stof word.”
20 Die mens het sy vrou Eva genoem; sy was die moeder van al die mense.
21 Daarna het die Here God vir die mens en sy vrou velklere gemaak, en hulle dit aangetrek.
22 Toe het die Here God gesê: “Die mens het nou soos een van Ons geword deurdat hy alles kan ken. As hy nou maar net nie sy hand uitsteek en die vrug van die boom van die lewe vat en daarvan eet en altyd bly lewe nie!”
23 Daarom het die Here God die mens weggestuur uit die tuin van Eden uit om die aarde te gaan bewerk, die aarde waaruit hy gemaak is.
24 Die Here God het die mens uitgedryf, en om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak, het Hy oos van die tuin van Eden gerubs gesit, en ook 'n vlammende swaard wat heen en weer beweeg.