5 Abraham het dan self vir my gesê: ‘Sy is my suster.’ En sy het self gesê: ‘Hy is my broer.’ Ek het dit onskuldig en sonder slegte bedoelings gedoen.”
6 Toe het God vir hom in 'n droom gesê: “Ja, Ek weet dat jy dit onskuldig gedoen het. Daarom het Ek jou daarvan weerhou om teen My te sondig en het Ek jou nie toegelaat om aan haar te raak nie.
7 Gee nou die vrou terug aan haar man. Hy is 'n profeet. Hy sal vir jou bid dat jy kan bly lewe. Maar as jy haar nie teruggee nie, moet jy weet jy sal beslis sterf, jy en almal wat by jou is.”
8 Die môre vroeg het Abimelek sy amptenare geroep en alles vir hulle openlik vertel, en hulle het baie bang geword.
9 Hy het vir Abraham geroep en vir hom gesê: “Wat het jy ons aangedoen? Wat het ek aan jou gedoen wat verkeerd is dat jy hierdie groot ellende oor my en my koninkryk gebring het? Wat jy my aangedoen het, is onbehoorlik.”
10 Verder het Abimelek vir hom gesê: “Wat het jou besiel om so iets aan te vang?”
11 Toe het Abraham gesê: “Ek het gedink hier is niemand wat vir God dien nie en die mense sal my doodmaak oor my vrou.