11 Abraham het ter wille van sy seun Ismael baie sleg gevoel oor wat sy gesê het,
12 maar God het vir Abraham gesê: “Moenie sleg voel oor die kind en oor jou slavin nie. Luister na alles wat Sara vir jou sê, want uit Isak sal jou nageslag gebore word.
13 Tog sal Ek die seun van die slavin 'n nasie laat word, want hy is jou kind.”
14 Vroeg die volgende môre het Abraham kos gevat en 'n velsak water en dit vir Hagar gegee. Hy het dit saam met die kind op haar rug gesit en haar weggestuur. Sy is toe weg en het in die Bersebawoestyn rondgeswerf.
15 Toe die water in die velsak opraak, het sy die kind onder 'n doringbos neergesit
16 en 'n entjie daarvandaan gaan sit, omtrent so ver as 'n mens met 'n pyl en boog kan skiet, want sy het gedink: ek wil nie sien as die kind doodgaan nie. Terwyl sy so daar sit, het sy begin huil.
17 God het die kind hoor huil, en die Engel van God het uit die hemel na Hagar geroep en vir haar gesê: “Wat is dit, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy lê, gehoor.