54 Toe het die slaaf en die mense wat by hom was, geëet en daar oornag. Die volgende môre het hulle opgestaan en toe sê hy: “Laat my vertrek na my eienaar toe.”
55 Rebekka se broer en haar ma het egter gesê: “Laat die dogter nog 'n dag of tien by ons bly en dan kan sy gaan.”
56 Maar die slaaf het hulle geantwoord: “Moet my nie ophou nie. Die Here het my in my doel laat slaag. Laat my gaan sodat ek na my eienaar toe kan gaan.”
57 Hulle het geantwoord: “Kom ons roep die dogter en vra haar wat sy verkies.”
58 Hulle het vir Rebekka geroep en vir haar gevra: “Wil jy saam met hierdie man gaan?”Sy het geantwoord: “Ja!”
59 Hulle het hulle suster Rebekka en die vrou wat haar grootgemaak het, saam met die slaaf van Abraham en sy mense laat gaan.
60 Hulle het vir Rebekka met seënwense gegroet en vir haar gesê:“Ons suster, mag jou nageslag tienduisende word,mag hulle die stede van hulle vyande verower!”