4 Toe sy broers sien dat hulle pa vir Josef liewer het as vir enige van hulle, het hulle 'n afkeer van Josef gekry en het hulle niks goeds oor hom gesê nie.
5 Op 'n keer het Josef gedroom en dit vir sy broers vertel. Daarna was hulle afkeer van hom nog groter.
6 Hy het vir hulle gesê: “Luister na die droom wat ek gehad het. Ons was op die land besig om gerwe te bind
7 en skielik gaan staan my gerf regop en julle gerwe gaan staan daar rondom en hulle buig voor myne.”
8 Toe sê sy broers vir hom: “Jy verbeel jou jy sal oor ons koning word. Dink jy dalk jy sal oor ons regeer?”Oor sy drome en sy praatjies het hulle 'n nog groter afkeer van hom gekry.
9 Hy het ook nog 'n ander droom gehad en hy het dit vir sy broers vertel. Hy het gesê: “Ek het weer gedroom. Die son en die maan en elf sterre het voor my kom buig.”
10 Toe hy dit vir sy pa en sy broers vertel, het sy pa hom berispe en vir hom gesê: “Wat vir 'n soort droom is dit wat jy gehad het? Verbeel jy jou ek en jou ma en jou broers moet voor jou kom buig?”