28 Die een is van my af weg en ek moes aanvaar dat 'n roofdier hom opgevreet het, en ek het hom tot nou toe nog nie weer gesien nie.
29 As julle nou ook nog hierdie jongste van my af wegvat en hy kom iets oor, sal julle my in my ouderdom laat sterf van verdriet.’
30 Wanneer ons dus by ons pa terugkom en die seun aan wie hy so geheg is, is nie by ons nie,
31 ja, as hy moet sien die seun is nie daar nie, sal hy sterf. So sal ons ons pa wat 'n ou man is, van kommer laat sterf.”
32 Juda het verder gesê: “Ek het vir my pa gewaarborg dat die seun sal terugkom. Ek het belowe ek sal vir altyd by my pa in die skuld wees as ek die seun nie terugbring nie.
33 Hou my daarom dan nou hier as Meneer se slaaf in die plek van die seun, maar laat hý saam met sy broers teruggaan.
34 Hoe kan ek sonder die seun by my pa aankom? Ek sal dit nie kan verdra om te sien dat so 'n smart hom tref nie.”