5 Dit is die beker waaruit Meneer drink en waarmee hy voorspellings doen. Dis 'n lelike ding wat julle gedoen het.”
6 Toe die hoofamptenaar hulle ingehaal het, het hy dit alles vir hulle gesê,
7 maar hulle het vir hom gesê: “Waarom sê u so? Nie een van ons sal so iets aanvang nie.
8 Die geld wat ons die vorige keer in ons graansakke ontdek het, het ons uit Kanaän uit vir u teruggebring. Waarom sou ons dan goud of silwer uit die huis van u hoof steel?
9 Die een by wie iets van u hoof gekry word, kan doodgemaak word, en ons sal dan u slawe word.”
10 Die hoofamptenaar het geantwoord: “Goed en reg! Dit sal wees soos julle sê, maar net die een by wie die beker gekry word, sal my slaaf word. Julle ander sal onskuldig wees.”
11 Toe het elkeen gou sy sak op die grond neergesit en dit oopgemaak.