18 Aan die einde van daardie jaar, en die volgende jaar, het die mense weer by Josef gekom en vir hom gesê: “Ons kan dit nie vir Meneer wegsteek nie: ons geld is op en u besit reeds al ons vee. Ons het niks meer oor om vir u te bring nie, net onsself en ons grond.
19 Waarom moet ons voor u oë doodgaan? Hier is ons, en daar is ons grond. Koop ons en koop ons grond in ruil vir kos. Ons sal die farao se slawe word en ons grond sal syne wees. Gee vir ons saad dat ons aan die lewe kan bly. En as ons nie sterf nie, sal ons grond nie onbewerk bly lê nie.”
20 So het Josef al die grond vir die farao opgekoop. Al die Egiptenaars het hulle lande verkoop, want die hongersnood het hulle swaar gedruk. Die land het aan die farao behoort,
21 en die volk het van die een uithoek van Egipte tot by die ander uithoek na die stede toe gekom, na Josef toe.
22 Hy het net nie die priesters se grond gekoop nie, want hulle het 'n vaste inkomste van die farao gekry en hiervan het hulle geleef. Daarom het hulle nie hulle grond verkoop nie.
23 Toe sê Josef vir die volk: “Ek het julle en julle grond nou vir die farao gekoop. Hier is vir julle saad. As julle dit nou op die lande saai,
24 moet julle 'n vyfde van die opbrengs vir die farao afgee en vier vyfdes is julle s'n. Gebruik dit as saad vir die lande en as kos vir julle en vir wie in julle huise is en vir julle kinders.”