25 Hulle het vir Josef gesê: “U het ons lewe gered. Meneer is ons goedgesind. Ons sal die farao se slawe wees.”
26 Josef het hierdie reëling tot vandag toe 'n vaste instelling in Egipte gemaak: 'n vyfde van die opbrengs kom die farao toe. Net die priesters se grond is uitgesonder. Dit behoort nie aan die farao nie.
27 Israel en sy seuns het in Egipte gebly, in die Gosenstreek. Hulle het dit as hulle eiendom ontvang en hulle was vrugbaar en hulle het baie geword.
28 Jakob het sewentien jaar in Egipte gebly. Hy was dus toe honderd sewe en veertig jaar oud.
29 Toe sy einde nader kom, het hy sy seun Josef geroep en vir hom gesê: “Bewys my nog 'n laaste guns. Sit jou hand onder my heup en beloof dat jy my met liefde en eerbied sal behandel en my nie in Egipte sal begrawe nie.
30 Wanneer ek sterf, moet jy my uit Egipte wegvat en in die graf van my voorvaders gaan begrawe.”Toe antwoord Josef: “Ek sal doen wat Pa vra.”
31 En Jakob het vir hom gesê: “Bevestig jou belofte met 'n eed.”Toe lê Josef vir hom 'n eed af, en Israel het daar op sy bed gebuig voor God.