11 Presies op die sewentiende dag van die tweede maand van die ses honderdste jaar van Noag het die fonteine van die groot waters oopgebreek. Die vensters van die hemel is oopgemaak,
12 sodat daar 'n stortreën op die aarde geval het, veertig dae en veertig nagte lank.
13 Dit was die dag waarop Noag en sy seuns, Sem, Gam en Jafet, en sy vrou en sy drie skoondogters almal saam in die ark ingegaan het.
14 Hulle, en elke soort wilde dier en mak dier, en al die soorte diere wat kruip, en elke soort voël, alles wat vlieg, het ingegaan.
15 Van al wat leef, het daar pare-pare na Noag toe in die ark gekom.
16 Hulle het ingekom, manlik en vroulik, soos God vir Noag gesê het. En toe het die Here die ark agter Noag toegesluit.
17 Die oorstroming het oor die aarde gekom, veertig dae lank, en die water het al hoe meer geword. Dit het die ark opgelig en die ark het begin opstyg bokant die aarde.