Nehemia 2 AFR83

Nehemia kry toestemming om Jerusalem te herbou

1 Dit was in die maand Nisan, die twintigste jaar van koning Artasasta. Die wyn was voor hom, en ek moes dit optel en aan hom gee. Ek was nooit bedruk voor hom nie,

2 maar dié dag sê die koning vir my: “Hoekom lyk jy so bedruk? Is jy dalk siek? Nie? Hartseer dan?”Ek was baie bang,

3 maar ek het vir die koning gesê: “Mag die koning baie lank lewe! Hoe sal ek dan nie bedruk lyk as die stad waar my voorvaders begrawe is, in puin lê en sy poorte verbrand is nie?”

4 Toe sê die koning vir my: “Is daar iets wat jy my wil vra?”Ek het 'n skietgebed opgestuur na die God van die hemel

5 en toe vir die koning gesê: “As die koning dit goedvind, as u dienaar op u goedgesindheid mag reken, stuur my na Juda toe, na die stad waar my voorvaders begrawe is, sodat ek die stad kan herbou.”

6 Die koningin het langs die koning gesit. Hy het vir my gevra: “Hoe lank sal jou reis duur en wanneer sal jy terug wees?”Hy was die saak dus goedgesind, hy het my die opdrag gegee. Ek het vir hom 'n tyd aangedui

7 en toe vir hom gevra: “As die koning dit goedvind, laat ek briewe kry aan die goewerneurs in Wes-Eufraat, sodat hulle my vrye deurgang kan gee tot ek in Juda aankom.

8 Ek het ook 'n brief aan Asaf nodig, die opsigter oor die staatsbos, dat hy my kan voorsien van hout om die poorte van die vesting by die tempel te maak, en vir die stadsmuur en vir die huis wat ek sal bewoon.”My God het sy goeie hand oor my gehou, en die koning het my versoek toegestaan.

9 Ek het by die goewerneurs in Wes-Eufraat gekom en die briewe van die koning aan hulle oorhandig. Die koning het offisiere en ruiters met my saamgestuur.

10 Toe Sanballat die Goroniet en Tobija die Ammonitiese amptenaar dit hoor, was dit vir hulle slegte nuus. Hulle het dit as 'n groot ramp beskou dat daar iemand gekom het wat iets goeds vir die Israeliete wou doen.

Die besluit om die muur te herstel

11 Ek het in Jerusalem aangekom, en na ek drie dae daar was,

12 is ek die nag stilletjies uit met 'n paar man by my. Ek het vir niemand gesê wat my God my in die hart gegee het om vir Jerusalem te doen nie. Behalwe my rydier het ek geen diere by my gehad nie.

13 Ek is dié nag deur die Dalpoort na die Jakkalsfontein en die Vullispoort toe en het die mure van Jerusalem nagegaan waar hulle afgebreek was en ook die poorte wat verbrand was.

14 Toe ek by die Fonteinpoort en die Koningsdam kom, was daar nie plek vir my rydier om verby te kom nie,

15 en moes ek in die nag met die vallei op boontoe sodat ek die muur kon nagaan. Daarna het ek omgedraai en is ek weer deur die Dalpoort en terug huis toe.

16 Die ampsdraers het nie geweet waarheen ek was en wat ek gedoen het nie. Tot dusver het ek niks laat blyk teenoor die Judeërs, die priesters, die vooraanstaande burgers, die ampsdraers of die ander wat die werk moes doen nie.

17 Maar toe sê ek vir hulle: “Julle sien self die benarde toestand waarin ons sit. Jerusalem lê in puin en sy poorte is verbrand. Kom ons herbou die muur van Jerusalem, dat dié vernedering nie langer op ons rus nie.”

18 Ek het hulle toe vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het en wat die koning vir my gesê het. Hulle het gesê: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak.

19 Maar toe Sanballat die Goroniet, Tobija die Ammonitiese amptenaar en Gesem die Arabier hoor wat ons doen, het hulle ons uitgelag en smalend gevra: “Wat vir 'n ding is dit waarmee julle besig is? Wil julle in opstand kom teen die koning?”

20 Ek het hulle geantwoord en vir hulle gesê: “Die God van die hemel sal ons laat slaag in wat ons doen. Ons, sy dienaars, gaan bou. Julle het nóg aandeel nóg reg in Jerusalem, en geen historiese band met hom nie.”

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13