36 Hoekom vra mense hierdie dom vrae? Kyk wat gebeur wanneer ’n mens saad plant. Die saad moet eers sterf voordat dit weer lewe.
37 En wanneer ’n mens saad plant, dan lyk die saad nie soos die plant wat later begin groei nie. ’n Mens plant ’n koringkorrel of iets anders.
38 Maar God gee vir die saad ’n plant of ’n liggaam soos Hy besluit het. Hy gee vir elke soort saad ’n ander liggaam.
39 Al die plante of liggame lyk nie dieselfde nie. Daar is liggame van mense, liggame van diere, van voëls, en van visse.
40 En daar is ook hemelse liggame, die son, die maan en die sterre, en daar is liggame van dinge op die aarde. Hemelse liggame is baie mooi, maar dit is anders mooi as die liggame op die aarde.
41 Die son, die maan en die sterre is almal mooi, maar hulle is nie dieselfde nie. Ja, daar is baie sterre, en elke ster is mooi, maar hulle is nie dieselfde nie.
42 So sal dit ook wees wanneer God die mense wat dood is, weer laat lewe. Die mense begrawe ’n liggaam soos hulle ’n koringkorrel in die grond plant, en die liggaam word stof, maar God laat ’n liggaam lewe wat nie stof kan word nie.