1 Korintiërs 3 ABA

Hoekom is groepe mense teen mekaar?

1 Vriende, ek kon nie met julle praat soos met geestelike mense nie. Ek het met julle gepraat soos met wêreldse mense, soos met klein kindertjies wat vir die eerste maal van Christus gehoor het.

2 Ek het vir julle melk gegee soos vir klein kindertjies. Ek het nie vir julle grootmenskos gegee nie, want julle kon dit nie eet nie. Julle kan dit ook nou nog nie eet nie.

3 Julle is nog wêreldse mense, want julle is jaloers op mekaar en julle twis met mekaar. Dit wys dat julle wêreldse mense is, julle doen wat die mense van die wêreld doen.

4 Party van julle sê: “Ek behoort aan Paulus,” ander sê: “Ek behoort aan Apollos.” Wanneer julle so sê, dan doen julle wat die mense van die wêreld doen.

5 Apollos en ek, Paulus, is nie belangrik nie. Ons is net mense wat vir julle gehelp het om te begin glo. Die Here het vir my en Apollos elkeen ’n werk gegee.

6 Ek het die saad van die boodskap van God geplant en Apollos het dit natgegooi, maar dit is God wat dit laat groei het.

7 Die persoon wat plant en die persoon wat natgooi, is nie belangrik nie. Die Persoon wat laat groei, is belangrik, en dit is God.

8 Die persoon wat plant, doen nie belangriker werk as die persoon wat natgooi nie. God sal elkeen beloon vir die werk wat hy gedoen het.

9 Ons werk almal saam vir God. En julle is soos ’n stuk grond waar God besig is om te werk.Julle is ’n gebou van God.

Die gelowiges is die gebou en die tempel van God

10 God was genadig vir my. Hy het gesê ek mag die fondament bou. Toe het ek soos ’n goeie bouer die fondament gebou, en ’n ander bouer bou verder daarop. Elkeen moet goed kyk hoe hy daarop bou.

11 Niemand kan ’n ander fondament bou nie, want daar is klaar ’n fondament. Hierdie fondament is Jesus Christus.

12 ’n Mens kan op hierdie fondament bou met goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi.

13 Wanneer die Here kom, dan sal almal kan sien waarmee elkeen gebou het, want op daardie dag sal daar ook vuur kom. Die vuur sal elkeen se bouwerk toets om te kyk of hy goed gebou het.

14 Wanneer iemand op die fondament gebou het, en sy werk bly staan, dan sal die Here daardie persoon beloon.

15 Maar as iemand se werk verbrand, dan sal daardie persoon alles verloor. Maar die Here sal die persoon self red, Hy sal die persoon uit die vuur red.

16 Julle moet onthou dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon.

17 As iemand die tempel van God ontwy, dan sal God daardie persoon straf, want die tempel van God behoort aan God. En júlle is daardie tempel.

18 Julle moenie julleself bedrieg nie. Een van julle dink miskien hy is slim in hierdie wêreld, maar hy sal eers regtig slim wees wanneer hy weet hy is dom by God.

19 Hoekom? Want God sê die slim dinge van die wêreld is dom. In die Ou Testament is geskryf: God vang die slim mensemet hulle eie slim planne.

20 Daar is ook geskryf: Die Here ken die plannewat die slim mensevan die wêreld maak.Hy weet dit beteken niks.

21 Daarom moet julle nie spog dat julle aan ’n belangrike leier van die gemeente behoort nie, want al hierdie leiers, ja alle dinge, behoort aan julle.

22 Paulus en Apollos en Sefas en die wêreld en die lewe en die dood en die belangrike dinge van hierdie lewe en van die lewe wat eendag kom, ja, alles behoort aan julle.

23 En julle behoort aan Christus, en Christus behoort aan God.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16