11 Kyk wat het tot nou toe alles met ons gebeur: Ons is honger en dors, ons dra stukkende klere, mense slaan ons, ons het nie ’n huis waar ons kan woon nie.
12 Ons werk baie hard om kos en klere vir onsself te kry. Wanneer mense ons beledig, dan bid ons dat dit goed sal gaan met hulle. Wanneer hulle slegte dinge doen aan ons, dan bly ons stil.
13 Wanneer hulle skinder van ons, dan sê ons mooi dinge vir hulle. Ons het geword soos die slegste mense in die wêreld, soos vuilgoed. Niemand dink ons is goed nie, en dit hou nooit op nie.
14 Ek skryf nie hierdie dinge om julle skaam te maak nie. Ek skryf dit om vir julle te leer, want julle is my kinders, ek is baie lief vir julle.
15 Daar is baie mense wat vir julle leer van Christus. Hulle is soos mense wat kinders oppas. Maar julle het nie baie vaders nie, julle het net een vader. Ek het julle vader geword toe ek die goeie boodskap van Christus Jesus vir julle gebring het, en toe julle in Hom begin glo het.
16 Daarom vra ek mooi vir julle: Julle moet lewe soos ek lewe.
17 En daarom het ek vir Timoteus na julle toe gestuur. Ek het vir Timoteus gehelp om die Here te leer ken, en nou is hy vir my soos ’n kind, ek is baie lief vir hom. Timoteus sal ook doen wat hy moet doen. Hy sal julle help om te onthou wat ek vir die mense leer. Dit is dieselfde dinge wat Christus Jesus vir die mense geleer het. En dit is dieselfde dinge wat ek vir die mense in al die gemeentes leer.