1 God het besluit om vir my, Paulus, ’n apostel van Christus Jesus te maak. Ek en Timoteus, wat ook ’n gelowige is, skryf nou hierdie brief vir julle, die gemeente van God daar in die stad Korinte. Ons skryf ook vir almal wat aan God behoort, oral in die provinsie Agaje.
2 Ons bid dat God ons Vader en die Here Jesus Christus genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle vrede sal gee.
3 Almal moet vir God, die Vader van ons Here Jesus Christus, prys. God is die Vader wat baie goed is vir ons en Hy is die God wat altyd vir ons bemoedig.
4 Hy bemoedig ons wanneer ons swaarkry, dit maak nie saak wat die swaarkry is nie. Dan kan ons ook ander mense bemoedig wat swaarkry, dit maak nie saak wat hulle swaarkry is nie. Ons kan dit doen omdat God vir ons bemoedig.
5 Ja, ons kry baie maal swaar omdat ons aan Christus behoort. Maar so bemoedig God ook baie maal vir ons omdat ons aan Christus behoort.
6 Wanneer ons swaarkry, dan kry ons swaar sodat ons vir julle kan bemoedig en sodat julle geestelik kan lewe. Wanneer God vir ons bemoedig, dan doen Hy dit sodat ons vir julle kan bemoedig. Wanneer julle swaarkry, dan voel julle hoe ons swaarkry en dan voel julle ook hoe God vir julle bemoedig.
7 Ons hoop dat daar goeie dinge met julle sal gebeur, en dit is seker dat dit sal gebeur. Julle kry ook swaar soos ons, daarom weet ons dat God vir julle ook sal bemoedig soos Hy vir ons bemoedig het.
8 Vriende, ons wil hê dat julle moet weet hoe swaar ons gekry het in Asië. Ons het baie swaar gekry, dit was vir ons te veel, ons het gedink ons sal doodgaan.
9 Ons het gevoel soos mense wanneer die regter besluit het dat hulle moet sterf. Ons kon onsself nie meer help nie. Ons kon net vertrou op God omdat Hý die Een is wat mense weer laat lewe nadat hulle gesterf het.
10 God het ons gered uit hierdie groot gevaar, uit die dood. Hy sal ons weer red. Ons hoop en ons is seker dat Hy ons altyd sal red.
11 Julle help ons ook baie wanneer julle vir ons bid. As God ons red, dan is daar baie mense in die gemeente wat vir God dankie sê omdat Hy ons gered het.
12 Ons is trots daarop dat ons reg gedoen het aan al die mense en spesiaal aan julle. As ons goed dink daaroor, dan weet ons in ons harte dat dit Gód is wat ons so reg laat lewe het. Ons het dit reggekry omdat God genadig was vir ons, nie omdat die wêreld ons so slim gemaak het nie.
13 Die dinge wat julle in ons briewe lees, is die dinge wat ons vir julle wil sê, en julle moet dit so verstaan. Ek hoop dat julle alles meer en meer sal verstaan
14 soos julle klaar begin het om ons te verstaan. Ja, ons wil hê dat julle trots sal wees op ons, so trots soos ons sal wees op julle, daardie dag wanneer ons Here Jesus weer kom.
15 Ek was seker dat julle verstaan, en daarom het ek besluit om eers na julle toe te kom, sodat julle twee maal bly kan wees wanneer julle my sien.
16 Want ek wou eers na julle toe gaan en dan na die provinsie Masedonië. Ek wou dan weer van Masedonië terugkom na julle toe. Ek wou hê dat julle my moet help om na die provinsie Judea te gaan.
17 Dit is wat ek wou doen. Ek het nie vir julle ’n leuen vertel nie, maar toe het ek nie van Masedonië teruggekom na julle toe nie. Ek het nie gedoen soos die mense van die wêreld doen nie. Hulle doen nie wat hulle sê nie. Hulle sê “ja,” maar dit kan ook “nee” wees.
18 Julle weet dat God doen wat Hy belowe. So doen ons ook wat ons belowe. Wanneer ons “ja” sê, dan is dit “ja,” en wanneer ons “nee” sê, dan is dit “nee.”
19 Julle moet onthou dat ek en Silvanus en Timoteus die boodskap oor die Seun van God, Jesus Christus, vir julle gebring het. En julle weet dat Jesus nie “ja” én “nee” is nie. Jesus is God se “ja.”
20 Want alles wat God belowe het, het waar geword toe Christus gekom het. Daarom, wanneer ons “amen” sê, dan sê ons dat alles waar is wat ons van Christus glo. En so prys ons vir God.
21 God is die Een wat vir ons sê dat ons en julle saam aan Christus behoort. God het ook gesê dat ons vir Hom moet werk.
22 Hy het gewys dat ons aan Hom behoort toe Hy die Heilige Gees in ons harte gegee het. Die Heilige Gees sê vir ons dat ons altyd aan Hom sal behoort.
23 Ek het toe nie van Masedonië na Korinte teruggekom nie. Hoekom nie? Dit was omdat ek jammer was vir julle. God weet dit is waar, Hy kan my straf as ek nie die waarheid praat nie.
24 Julle moenie dink dat ek vir julle wil sê hoe julle moet glo nie. Nee, ons wil graag saam met julle werk sodat julle bly kan wees, want julle hou nog altyd aan om te glo.