7 Ons hou aan om die werk te doen terwyl ons die waarheid praat oor Jesus, en terwyl God ons help met sy krag. Ons doen wat God wil hê, dit is die wapens waarmee ons veg. Ons gebruik hierdie wapens wanneer ons aanval en wanneer ons verdedig.
8 Ons hou aan om die werk te doen wanneer mense goeie dinge oor ons sê en wanneer mense slegte dinge oor ons sê, ons hou aan wanneer hulle dink ons is nie belangrik nie en wanneer hulle dink ons is baie belangrik. Mense sê ons vertel leuens, maar ons praat die waarheid.
9 Party mense wil nie glo dat ons apostels is nie, maar party mense glo dat ons apostels is. Mense doen baie slegte dinge aan ons, ons sterf amper, maar ons lewe nog. Mense hou aan om ons te straf, maar hulle kan ons nie doodmaak nie.
10 Dit lyk of ons altyd huil, maar ons is bly. Ons lyk soos mense wat arm is, maar ons maak baie mense ryk by God. Ons lyk soos mense wat niks het nie, maar ons het alles.
11 Liewe Korintiërs, ons het nou reguit gepraat met julle, maar onthou, ons is baie lief vir julle.
12 Julle moenie dink dat ons kwaai en hard is met julle nie. Dit is júlle wat hard is met óns.
13 Ek praat met julle soos ’n pa met sy kinders praat: Julle moet julle harte wyd oopmaak vir ons, ons harte was oop vir julle.