1 Ek wil nie vir julle skryf oor die geld wat ons kollekteer vir die gelowiges in Jerusalem nie, maar ek doen dit.
2 Want ek weet hoe graag julle iets wil gee vir hulle. Ek spog daaroor by die gemeentes in die provinsie Masedonië. Ek weet dat julle, die gelowiges in die provinsie Agaje, van verlede jaar af gereed is om te gee. Die meeste gelowiges in Masedonië het gehoor dat julle graag wou gee, en toe wou hulle ook graag gee.
3 Ek stuur vir Titus en die ander twee persone na julle toe. Hulle moet kyk dat julle gereed is om julle geld te gee. Dan sal almal kan sien dat ons nie verkeerd was toe ons gespog het oor julle nie. Ek het dit al klaar gesê: Ons het gespog en gesê dat julle verlede jaar al klaar gereed was.
4 Want as ek en die ander gelowiges van Masedonië by julle kom, en hulle sien julle is nog nie gereed om te gee nie, dan sal ons skaam wees. Julle sal ook skaam wees as die geld nie gereed is nie.
5 Daarom het ek gedink dit is baie belangrik dat ek vir Titus en die ander twee persone vra om vóór ons na julle toe te gaan. Dan kan hulle seker maak dat die geld wat julle voorheen belowe het, gereed is voordat ons daar kom. En dan sal julle ook voel dat julle dit gee omdat julle graag wil gee, nie omdat ons sê julle móét dit gee nie.
6 Julle moet onthou: As iemand min saai, dan kry hy min, en as hy baie saai, dan kry hy baie.
7 Elkeen moet gee soos hy in sy hart besluit het. Dit moenie vir hom swaar wees om te gee nie, en hy moenie gee omdat iemand sê hy móét gee nie. Onthou, God is lief vir mense wat bly is wanneer hulle gee.