Lukas 10:13-19 ABA

13 Dit sal sleg gaan met die mense van die stad Gorasin! Dit sal sleg gaan met julle wat in Betsaida woon! Ek het baie wonderwerke by julle gedoen. As Ek dieselfde wonderwerke gedoen het in die stede Tirus en Sidon, dan sou al daardie mense hulle lewe verander het. Hulle sou rouklere gedra het en as op hulle koppe gegooi het. So sou hulle gewys het hulle het verander en hulle wil begin lewe soos God wil hê.

14 Die dag wanneer God sal oordeel, sal God die mense van Tirus en Sidon minder straf as vir julle.

15 En julle wat in Kapernaum woon, julle dink God sal vir julle eer gee en julle optel tot in die hemel. Nee! Hy sal julle verneder en Hy sal julle laat val tot in die hel.”

16 Jesus het ook vir die dissipels gesê: “Wanneer die mense na julle luister, dan luister hulle na My. Die mense wat hulle rug draai na julle toe, draai hulle rug na My toe. En die mense wat hulle rug draai na My toe, draai hulle rug na God toe wat My gestuur het.”

17 Die 72 dissipels het teruggekom en hulle was bly en opgewonde oor alles wat gebeur het. Hulle het vir Jesus gesê: “Here, ook die duiwels luister na ons wanneer ons u Naam gebruik om hulle uit mense te jaag.”

18 Toe sê Jesus vir hulle: “Ek het gesien hoe die Satan skielik uit die hemel val, soos wanneer weerlig uit die hemel kom.

19 Onthou, Ek het vir julle gesê julle kan op slange en skerpioene trap, en hulle sal niks aan julle kan doen nie. Ook as my vyand, die Satan, probeer om julle aan te val, sal hy niks kan doen aan julle nie.