9 Julle moet die siek mense in daardie stad gesond maak. Julle moet vir hulle sê: ‘Die tyd is naby wanneer julle sal weet God is Koning.’
10 Maar as julle in ’n stad kom en die mense sê julle mag nie daar bly nie, dan moet julle in die strate uitgaan en sê:
11 ‘Ons gaan nou weg en ons vee nou ook julle stad se stof van ons voete af. Dit is vir julle die teken dat God ook nou weggaan van julle. Maar julle moet weet: Die tyd is naby wanneer julle sal weet God is Koning.’
12 Ek sê vir julle, wanneer God die mense sal oordeel, dan sal dit beter gaan met die stad Sodom as met daardie stad.
13 Dit sal sleg gaan met die mense van die stad Gorasin! Dit sal sleg gaan met julle wat in Betsaida woon! Ek het baie wonderwerke by julle gedoen. As Ek dieselfde wonderwerke gedoen het in die stede Tirus en Sidon, dan sou al daardie mense hulle lewe verander het. Hulle sou rouklere gedra het en as op hulle koppe gegooi het. So sou hulle gewys het hulle het verander en hulle wil begin lewe soos God wil hê.
14 Die dag wanneer God sal oordeel, sal God die mense van Tirus en Sidon minder straf as vir julle.
15 En julle wat in Kapernaum woon, julle dink God sal vir julle eer gee en julle optel tot in die hemel. Nee! Hy sal julle verneder en Hy sal julle laat val tot in die hel.”