24 “Wanneer ’n onrein gees uit ’n mens uitgaan, dan gaan hy deur plekke waar daar nie water is nie en hy soek ’n plek waar hy kan woon. As hy nie ’n plek kry waar hy kan woon nie, dan sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my eerste huis, die mens in wie ek gewoon het.’
25 Dan kom die onrein gees terug na daardie mens toe, en hy sien daardie mens is soos ’n huis wat skoon en netjies is.
26 Dan gaan haal hy sewe ander geeste wat nog slegter is as hy. Hulle gaan almal saam, en hulle gaan woon in daardie mens. Wanneer dit gebeur, dan is daardie mens nog slegter as wat hy was.”
27 Toe Jesus hierdie dinge sê, het ’n vrou wat tussen die mense was, hard vir Hom gesê: “Die vrou wat vir U in haar liggaam gedra het, en wat vir U aan haar bors laat drink het, daardie vrou is baie gelukkig.”
28 Maar Jesus het gesê: “Die mense wat waarlik gelukkig is, is die mense wat die woord van God hoor en doen wat God wil hê.”
29 Meer en meer mense het rondom Jesus kom staan. Jesus het begin praat en Hy het gesê: “Die slegte mense wat nou lewe, wil ’n wonderteken hê, hulle wil ’n bewys sien. Maar God sal nie vir hulle ’n wonderteken wys nie. Hulle sal net een wonderteken sien, dit is die teken van Jona.
30 Jona was ’n teken vir die mense van die stad Nineve, en so sal Ek, die Seun van die mens, ook vir julle ’n teken wees.