32 Daardie dag wanneer God die mense sal oordeel, sal die mense van die stad Nineve weer lewe en hulle sal by die mense wees wat nou lewe. Toe Jona vir hulle gepreek het, het die mense van Nineve verander en hulle het begin lewe soos God wil hê. Wanneer God die mense sal oordeel, dan sal die mense van Nineve sê dat die mense wat nou lewe, verkeerd doen en skuldig is, en dat God hulle moet straf. En Ek sê vir julle, hier is Iemand, en dit is Ek, wat baie belangriker is as Jona.”
33 Jesus het ook gesê: “Iemand wat ’n lamp opsteek, steek nie die lamp weg in die stoorkamer of maak dit toe met ’n emmer nie. Nee, ’n mens sit die lamp op die plek waar die lamp moet staan sodat almal wat inkom, die lig kan sien.
34 Jou oog wys hoe jy is. As jou oog reg kyk en jy sien wanneer mense swaarkry, en jy help hulle, dan is jy vol lig. Maar as jou oog verkeerd kyk en jy sien wanneer mense swaarkry maar jy help hulle nie, dan is daar nie lig in jou nie.
35 Daarom moet jy seker maak dat daar altyd lig in jou is, en nie donker nie.
36 As jou lewe vol lig is, dan sal jy vol lig wees soos wanneer ’n lamp se lig op jou skyn.”
37 Toe Jesus klaar gepraat het, het ’n Fariseër Hom uitgenooi om by sy huis te kom eet. Toe Jesus daar kom, het Hy dadelik by die tafel gaan sit.
38 Die Fariseër het dit gesien en hy was verbaas omdat Jesus nie eers sy hande gewas het voordat Hy by die tafel gaan sit het nie.