39 Die Here het gesien die Fariseër is verbaas, en Hy sê vir hom: “Julle Fariseërs maak ook die buitekant van bekers en borde skoon, maar julle is heeltemal sleg binne-in julleself en julle wil altyd meer en meer goed hê.
40 Julle is baie dom. God het nie net julle buitekant gemaak nie, Hy het ook julle binnekant gemaak.
41 Daarom moet julle van die kos wat in julle bekers en op julle borde is, vir die arm mense gee. As julle dit doen, dan wys julle dat julle binne-in heeltemal rein is.
42 Fariseërs, dit sal sleg gaan met julle, want julle gee tiendes, ook van kruisement en wynruit, ja, van elke soort kruie. Maar God wil ook hê julle moet reg doen aan mense en julle moet goed wees vir hulle, maar julle doen dit nie. Julle moet dit doen en julle moenie ophou om tiendes te gee nie.
43 Fariseërs, dit sal sleg gaan met julle, want julle wil op die belangrikste plekke in die sinagoges sit, en julle wil hê die ander mense moet julle groet op die plekke in die stad waar die mense bymekaarkom.
44 Dit sal sleg gaan met julle, want julle is soos grafte wat ’n mens nie kan sien nie. Mense loop bo-oor die grafte, en hulle weet dit nie en hulle word onrein.”
45 Toe kla een van die skrifgeleerdes en hy sê vir Jesus: “Meneer, wanneer U hierdie slegte dinge sê oor die Fariseërs, dan praat U ook sleg van ons, die skrifgeleerdes.”