20 Maar toe het God vir die man gesê: ‘Jy is ’n dwaas, jy sal vannag sterf. En al daardie goed van jou wat jy so veilig weggebêre het, wat sal nou daarvan word?’
21 So gaan dit met ’n mens wat vir homself geld en mooi goed bymekaarmaak op die aarde, maar nie ryk is by God nie.”
22 Jesus het toe met sy dissipels gepraat en gesê: “Daarom sê Ek vir julle: Julle moenie bekommerd wees oor hoe julle sal lewe, oor wat julle sal eet nie. En julle moenie bekommerd wees oor julle liggaam, oor die klere wat julle moet aantrek nie.
23 Die lewe is belangriker as kos en die liggaam is belangriker as klere.
24 Kyk na die kraaie. Hulle saai nie, hulle sny nie koring af nie, en hulle het nie stoorkamers waar hulle kos en ander goed bêre nie. Maar God gee elke dag vir hulle kos. En julle is baie belangriker as die voëls.
25 Dit sal niks help as julle bekommerd is nie. Dit sal julle nie langer laat lewe nie, nie een uur langer nie.
26 As julle nie julle lewe ’n klein bietjie langer kan maak nie, hoekom is julle dan bekommerd oor al die ander dinge?