4 “Julle is my vriende. Daarom sê Ek vir julle dat julle nie bang moet wees vir mense nie. Hulle kan net julle liggame doodmaak. Maar daarna kan hulle niks meer aan julle doen nie.
5 Ek sal vir julle wys vir wie julle bang moet wees. Julle moet net vir God bang wees, want wanneer julle dood is, dan kan Hy julle in die hel laat brand. Ja, Ek sê vir julle, julle moet vir Gód bang wees.
6 ’n Mens kan vyf mossies vir net twee sent verkoop. Hulle is baie goedkoop, maar God vergeet nie een van daardie klein voëltjies nie.
7 Julle is vir God baie belangriker as baie mossies. God weet presies hoeveel hare op elke mens se kop is. Daarom moet julle nie bang wees vir mense nie.”
8 Jesus het ook gesê: “Ek sê vir julle, as iemand nie bang is om vir mense te sê hy behoort aan My nie, dan sal Ek, die Seun van die mens, ook vir God se engele sê daardie persoon behoort aan My.
9 Maar as iemand bang is om vir mense te sê hy behoort aan My, dan sal Ek ook vir God se engele sê daardie persoon behoort nie aan My nie.
10 As iemand iets sê teen My, die Seun van die mens, dan sal God dit vergewe. Maar as iemand iets sleg sê teen die Heilige Gees, dan sal God dit nie vergewe nie.