10 Ek sê vir julle, so sal die engele van God bly wees oor een sondaar wat verander en doen wat God wil hê.”
11 Jesus het ook gesê: “’n Man het twee seuns gehad.
12 Die jongste seun het vir sy pa gesê: ‘Pa, gee vir my die goed wat ek van Pa moet erf.’ Die pa het toe vir elke seun gegee wat hy moet kry.
13 Kort daarna het die jongste seun al sy goed verkoop en hy het van die huis weggegaan na ’n ver land. Daar het hy wild gelewe en hy het sy geld uitgemors.
14 Toe hy al sy geld uitgemors het, het daar ’n groot hongersnood in daardie land gekom. Die seun het begin swaarkry.
15 Toe gaan werk hy by een van die mense van daardie land. Die man het hom gestuur om sy varke in die veld te laat wei.
16 Die seun het gewens hy kan saam met die varke eet van die peule sodat hy nie meer honger is nie, maar niemand het dit vir hom gegee nie.