3 Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis:
4 “As daar ’n man by julle is wat 100 skape het, en een van die skape raak weg, wat doen die man? Hy los die 99 skape in die veld en hy gaan soek die skaap wat weggeraak het totdat hy dit kry.
5 En as die man die skaap kry, dan is hy baie bly en hy tel dit op sy skouers.
6 Wanneer hy by die huis kom, dan roep hy sy vriende en bure en sê vir hulle: ‘Julle moet saam met my bly wees, want ek het my skaap gekry wat weg was.’
7 Ek sê vir julle, so sal almal in die hemel bly wees wanneer een sondaar verander en doen wat die Here wil hê. Hulle sal blyer wees oor hierdie één sondaar as oor 99 mense wat dink hulle lewe reg en dink dit is nie nodig om te verander nie.”
8 “En as daar ’n vrou is wat tien geldstukke het en sy verloor een, wat doen sy? Sy maak lig met ’n lamp, sy vee die huis uit en soek oral totdat sy dit kry.
9 As sy die geldstuk kry, roep sy haar vriendinne en bure bymekaar en sê: ‘Julle moet saam met my bly wees, want ek het die geldstuk gekry wat ek verloor het.’