16 Die boeke van Moses en die boeke van die profete van die Ou Testament was belangrik totdat Johannes die Doper gekom het. Maar vandat Johannes die Doper gekom het, het Ek, Jesus, die goeie boodskap gebring dat God Koning is. En elkeen probeer baie hard om te wees by God wat Koning is.
17 Maar julle moet onthou, die hemel en die aarde sal makliker verdwyn as een letter-strepie van die boeke van Moses.
18 Daarom, wanneer iemand skei van sy vrou en met ’n ander vrou trou, dan pleeg hy egbreuk. En iemand wat met ’n geskeide vrou trou, pleeg egbreuk.”
19 “Daar was ’n ryk man wat pragtige klere gedra het. Hy het elke dag die beste dinge in die wêreld geniet.
20 Maar by sy hek het daar ’n arm bedelaar gelê. Sy naam was Lasarus. Hy was vol sere.
21 Lasarus het gewens hy kan eet van die kos wat van die ryk man se tafel afval. Die honde het altyd gekom en hulle het Lasarus se sere gelek.
22 Toe het die arm bedelaar gesterf, en die engele het hom weggedra om by Abraham te wees. Die ryk man het ook gesterf, en hulle het hom begrawe.